Description
Spotprente van die Anglo-Boereoorlog – M. C. E. van Schoor
Veroorloof die samesteller ‘n woord van erns voor die spotprenttekenaar se kuns van satiriese humor. Vanweë die merkwaardige trefkrag van die spotprent as eeue-oue beproefde medium om politieke en sosiale kommentaar te lewer, is behendig en deeglik van hierdie unieke grafiese kunsvorm gebruik gemaak, veral ten tyde van krisisse en wendinge in wêreld-gebeure, en in minder of baie belangrike insidente in ‘n volk se geskiedenis.
Die uitbreek en verloop van die Anglo-Boereoorlog van 1899 tot 1902, met al sy onreg, tragiek, heroiek en felle partyskappe, sou die voor- en teenstanders van die stryd die uitnemende geleentheid bied om die spotprent, met sy voortreflike slaankrag, op heel besondere wyse (veral in Europa) aan te wend. Aan die spotprent is al ‘n menigte eienskappe toegedig. Op sy pittigste is dit beskryf as ‘n les in vinjet. Waar die skryfkuns genoodsaak is om eers die gebeure te beskryf voordat kritiese opmerkings daaroor gemaak kan word, is die spotprent in die unieke posisie om voorval en kommentaar gelyktydig weer te gee.
Die spotprent is altyd tendensieus; in sekere sin is dit skeefgetrekte kommentaar op menslike optrede. Die uitbeelding is ‘n toespeling op die dwaashede en flaters van mense, en die werklikheid word onsinnig en selfs absurd voorgestel. Soos die naam aandui, bevat die spotprent elemente van spot, terg, hekel, koggel en selfs krasse vorme van hoon. Daarby is dit ‘n sonderlinge of groteske voorstelling van ‘n persoon of situasie deur bepaalde eienaardighede te oorbeklemtoon.
Die sinoniem vir spotprent is karikatuur, wat deur Italiaans, t.w. caricatura, na ons gekom het. Dit is weer afkomstig uit Latyn, caricare, nl. om te laai – vergelyk die Engels, cargo. Wesenlik wil die spotprent dus sekere eienskappe van ‘n persoon of voorval oorlaai. Die spotprent is egter nie uitsluitend op spot met of hekeling van die teenparty se flaters ingestel nie, maar kan ook op bedekte of flagrante, openlike of subtiele wyse drogredenasies ontbloot, skynheiligheid ontmasker of slinkse politieke sette en slenters in die ware lig stel.
Bowendien besit die spotprent met sy hekelende humor die besondere funksie om as veiligheids-Idep vir opgekropte politieke ergernis of sosiale druk van allerlei aard te dien. In die politiek hoort die spotprent tot die mees erkende, geoorloofde maar ook gevaarlikste wapen. As politieke strydmiddel is die spotprent gelyk aan bus-kruit – sedert die uitvinding daarvan eeue gelede is dit nog nie vervang nie, alleen in aanwending verfyn en verbeter.
Hoe ook al, sedert menseheugenis wend die mens sy tekenkuns aan om te spot. Meermale is gesê dat die enkele geslaagde politieke spotprente meer proseliete vir ‘n party kan werf as duisend woorde, of in ‘n verkiesing ‘n groter uitwerking kan hê as al die toesprake, pamflette en propaganda wat daarmee gepaard gaan. Geen party durf die trefwydte van die politieke spotprent onderskat nie.