Description
‘n Droë Wit Seisoen – André P. Brink
‘n Politieke roman oor die dood van ‘n swart man in aanhouding in die sewentigerjare. As roman (aanvanklik verbied), en later as film, het ‘n Droë wit seisoen ‘n baken in die Suid-Afrikaanse literatuur geword.
In die middel staan Ben du Toit, “‘n doodgewone, onskadelike, onmerkwaardige mens”. Maar dan word sy ingebore sin vir regverdigheid geskok deur die gewettigde moord op ‘n swart skoonmaker en dié se seun tydens die Soweto-betogings en oproer van 1976. Ben se pogings om agter die waarheid te kom, bring hom in opstand teen die hele geskiedenis en stelsel wat hom gevorm het.
Danksy die vriendskap van Stanley, die taxibestuurder uit Soweto, en die liefde van die joernalis Melanie, voer hy sy bitter stryd teen apartheid tot by die onvermydelike en skokkende einde. Wanneer Ben vermoed sy lewe is op die spel, besorg hy al die dokumente, uitknipsels, verklarings, ensovoorts – inligting wat hy teen die Veiligheidspolisie ingesamel het – aan ‘n ou universiteits-vriend, ‘n skrywer wat dit alles kan dokumenteer . . .
Sodat niemand hierna ooit durf sê: “Ek het nie geweet nie.”