Description
Moerbeibos – Dalene Matthee
Silas Miggel is ‘n man van eenvoud en van eer. ‘n Bosmens wat sy mooie Mirjam op die oopte van Gouna se plat-rand grootmaak eenkant, sodat hy haar kan weghou van mans. Dat hy onwettig woon op kroongrond wat vir immigrante opsygesit is, traak hom min. Hy is ‘n man wat sy eie dink dink en wat sy staan kan staan. Moeilikheid soek hy nie, maar moeilikheid soek hom. Soos die spul rumoerige Italiane wat op ‘n dag op die platrand afgelaai word.
Sywurmboere uit Italië wat ingevoer is om ‘n sybedryf te kom vestig, en dit op ‘n stuk aarde waar ‘n moerbeiboom verseg om in die potklei te groei. Dat hulle in die strawwe boswinter, met sy aanhoudende reën en koors-siekte, met hulle kinders in tente moet sit, is maar die begin van die ellende. Hulle sukkel om hulle verstaanbaar te maak en om te verstaan wat in die deur-mekaar wêreld aangaan; hulle raak al hoe meer verbitter oor hulle deur die goewerment om die bos gelei en daarna vergeet is; en vir die ruigtes bly hulle doodbang.
Silas wil hulle nie daar hê nie, veral nie om sy dogter nie, maar teen sy sin raak hy betrokke by hulle lot; word hy sieketrooster en vredemaker. En planmaker. Want die Italiane wil hy op ‘n skip kry, terug na Italië. Hulle is klip-mense, nie bosmense nie. Maar Silas Miggel staan man-alleen teen die goewermentswiel, en die rol stadig maar onverbiddelik. En boonop raak sy meisiekind onregeerbaar: party dae verdwyn sy net en kom die aand stralend terug, en sy steek haar geheim weg soos die Bos sy lelies.
Moerbeibos is ‘n verhaal wat op ware feite gebaseer is. Dis vol gebeurlikhede: amusant, en soms snaaks; ontroerend, met plek-plek tragiese aksente. Dit dra, nes Kringe in ‘n bos en Fiela se kind, die onmiskenbare stempel van Dalene Matthee se vertellersgawe.