Description
Dis Koue Kos, Skat – Marita van der Vyver
Marita van der Vyver se jongste is die vertroude gehalte in ’n splinternuwe gedaante – dis ’n briefroman! Dis koue kos, skat is die briewe en e-pos van ’n vrou in haar liefde verlaat; dit is briewe wat gil van woede, pleit om begrip en skreeu om wraak.
Die verhaal ontvou in korrespondensie wat oor ’n dekade geskryf is – aan ’n ontroue man en vriendinne. Clara Brand se man, Bernard, verlaat haar vir Anaïs, een van Clara se beste vriendinne. Die briewe wys die verskeie “stasies”van Clara se herstelproses: woede, aanvaarding, nuwe vryheid, herstel van haar sekslewe, hernieude bande met haar eks-man, die deurlopende poging om haar kinders normaal groot te maak. Uiteindelik eindig Bernard se tweede huwelik ook op die rotse (nie deur Clara se toedoen nie), en wanneer hy weer tot haar toenadering soek, besef sy dat sy uiteindelik finaal van hom verlos is, en as gewone vriendin saam met hom sal kan aansit vir ’n ete.
Dis koue kos, skat is ’n vreeslose ontboeseming; dit is slim, genuanseerd en gesofistikeerd. Dit is ’n eerlike, lewensgetroue en verkwiklike uitbeelding van Graham Greense se uitspraak: “We do not have to win the battle of the sexes, we merely have to survive it.”Clara Brand skreeu om wraak. Haar man het haar en hul drie kinders vir een van haar vriendinne gelos. En boonop vir iemand wat nie eens ’n eier kan kook nie! Clara stort haar woede, haar wraakgevoelens, haar behoefte aan begrip en ondersteuning uit in briewe. Sy skryf aan haar ontroue man, aan haar suster en aan vriendinne.
So ontstaan ’n aangrypende dog ook humoristiese beeld van ’n groeiproses, van die aanvanklike woede tot by aanvaarding, van die koestering van wraak tot die uiteindelike gewaarwording dat sy van haar eks-man verlos is. In korrespondensie wat oor ’n dekade geskryf is, ontvou die verhaal van ’n vrou wat dit regkry om met haar lewe aan te gaan, terwyl daar ’n wond in die siel is wat net besweer kan word deur tyd en die insig wat jy in jouself kry. Dis koue kos, skat is ’n vreeslose, soms skreeusnaakse ontboeseming; dit is slim, genuanseerd en gesofistikeerd. Dit skitter én ontplof, skok én verkwik, soos net die vurigste verhoudings kan.