Description
Die Somer met Danica – Konsalik
Dr. Alexander Corell walg van die lewe. Sy geliefde Hilde het in ‘n sweefspoor-ongeluk gesterf. Ook sy twee kinders is grusaam dood. Kan enigiets dan nog sin hê? Hy begin sink, word onaanvaarbaar vir die gevestigde samelewing. Sy kollegas kan die gedrag van ‘n onverantwoordelike alkoholis nie duld nie. Nêrens vind hy simpatie nie; orals stuit hy teen agterdog.
Tog, in Frankfort se onderwêreld is hy nog „belangrik”. Want hier sorg hy vir pasiënte soos die Lord, Mooi-Eddie, Gretchen en Sterk- Karel, mense wat in die donker volgens hul eie morele kodes lewe. Hulle houvas op Corell is meedoënloos. Slegs sy dood kan ‘n einde daaraan maak. Dp pad na Joego-Slawië gebeur dit – ‘n stormwind slinger sy motor oor ‘n afgrond. In hierdie oomblikke besef hy: Hy wil nog lewe! Hy wil nie so sterf nie. Daar is nog so baie om te doen! En is dit nie hier waar sy tweede lewe inderdaad vir hom begin nie?
Die oomblik toe iemand oor sy gesig streel, toe Danica Robic naby hom sê: „Uiteindelik praat jy …’ In Die Somer met Danica is die Konsalik-stempel onmiskenbaar. Want ook hierdie sterk verhaal speel af teen ‘n boeiende agtergrond — Joego-Slawië met sy helder lug en bergagtige streke, ‘n Land waar niks gou sterf nie. En ook hier skep Konsalik onvergeetlike karakters. Karakters wat kleinlik misluk, maar ook heldedade verrig.