Description
Boerewysheid – Grobbelaar, Hudson, Van Der Merwe
Boerewysheid is ‘n boeiende ontleding van die ou, tradisionele opvattinge en gelowe van die Afrikaanse volksmens. Hoewel groot dele van die vroeëre volkskultuur na die Tweede Wêreldoorlog heeltemal vergete geraak het, is daar baie van die ou gelowe en gebruike wat vandag nog met ons is.
Boerewysheid of volkswysheid is oorspronklik soms as term gebruik om die terrein van die sogenaamde volkswetenskap aan te dui, die gewaande presiese proefondervindelike waarnemings omtrent mens, dier en ding. In ‘n oorwegend droë land soos Suid-Afrika is dit begryplik dat die volkswetenskap nou verband sou hou met die weer en water, en talle gebruike en gelowe rondom weervoorspellings en waterwys word dus behandel. In die afdeling volksgenees-kunde word die spore van oeroue volksgelowe nagegaan, en ook op die Christelike elemente daarin gewys.
In talle gevalle het egter geblyk dat dinge wat as volkswetenskap gereken is, niks anders as volksgelowe was nie. Die groot verskeidenheid volksgelowe wat verband hou met vuur-, lug-, water- en aardgeeste word bespreek, asook gelowe in voorbodes en voorspellings (soos „om met die helm gebore te wees”), spookgelowe en goëlery, met al hul afweervoor-skrifte, towenaars, paaiboelies, gelowe oor die duiwel en so meer.
Volkswetenskap en volksgeloof hou ook sterk verband met geboorte en doop, hofmaak en huwelik, dood en begrafnis, en al die verskillende gebruike en gelofies rondom hierdie lotstye word in besonderhede bespreek. Boerewysheid is ‘n boek sonder gelyke in Afrikaans. Dit bied ‘n oorsig van ons”onder-kultuur” wat nog by baie geleenthede na bo kom.