Agaat – Marlene van Niekerk

R98.00

Toestand: Goed. Skutblad verwyder, andersins skoon en netjies.
Formaat: Sagteband
Bladsye: 718
Uitgegee: 2004 (Tafelberg)
ISBN: 9780624042068

Out of stock

Description

Agaat – Marlene van Niekerk

Agaat speel af in die periode 1946 tot 1996 en handel oor die lotgevalle van vier mense op ’n plaas in die distrik van Swellendam. Die verhaal ontvou aan die hand van die verteller, Milla de Wet (née Redelinghuys), waar sy op haar sterfbed probeer sin maak van haar lewe as “oorsprong” van die lotgevalle op ’n familieplaas.

Milla, as een-en-twintigjarige erfgenaam van die plaas Grootmoedersdrif, is idealisties. Jak de Wet, aantreklik en spitsvondig, is die man wat sy as lewensgenoot kies om saam met haar ’n model van gemengde boerdery op haar erfgrond aan die Kliprivier onder die Langeberge tot stand te bring. Maar daar is ook Asgat: ’n gebreklike en mishandelde bruin dogtertjie van vyf jaar wat sy anderkant die Tradouw op haar ma se plaas “steel”, en wat sy met ’n streng en liefdevolle hand rehabiliteer en opvoed het by die lig wat sy het. Jakkie, haar eie seun, word sewe jaar ná die aanneem van Asgat gebore – die langverwagte erfgenaam van die familieplaas Grootmoedersdrift.

Die roman openbaar ’n reeks lewensbepalende verskuiwings van mag en nood tussen hierdie vier intiem verbonde mense: Milla, in wese ’n afhanklike, obsessiewe en melankoliese vrou, word op gruwelike wyse ontnugter in haar huwelik. Asgat word herdoop tot Agaat en op dertienjarige leeftyd met die geboorte van Jakkie gedemoveer tot kinderbediende, en in die buitekamer hervestig vanwaar sy die huishouding en die boerdery van Grootmoedersdrift op toenemend tiranieke wyse beheer. Jak herken homself oor die jare met stygende verontwaardiging as die slagoffer van niksontsiende manipulasie deur die twee vroue van die huis. Jakkie, aanvanklik meer Agaat se kind as sy ma s’n, en later meer sy pa se kind Agaat s’n, word ’n vegvlieënier in die Suid-Afrikaanse Lugmag en verlaat uiteindelik die land as politieke vlugteling tydens die nadraai van die oorlog in Angola om in Kanada heenkome te soek en homself te herskool as etnomusikoloog.

Hierdie geskiedenis word onthul terwyl Milla – verlam en van spraak ontneem deur motorneuronsiekte – versorg word deur die diep bedroefde, maar ook wraaksugtige Agaat, nou in haar middeljare. Agaat is die een wat Milla se dagboeke opdiep en berekende seleksies aan die siek vrou voorlees. Sy word op die manier ’n belanghebbende middelaar van Milla se poging tot selfbegrip terwyl sy haar eie lewensloop as aangenome kind, later huisbediende en uiteindelik as sterwensbegeleider van haar “moeder” aan haarself repeteer.

Watter insigte verwerf hierdie twee vroue in mekaar se skuld en onskuld? Watter soort vergifnis en selfvergifnis kan hulle vir mekaar bied? Watter vreemde gedaantes kan die rou om verliese en die berou om oortredings van die verlede aanneem? Hoe moet daar afskeid geneem en gesterwe word? Deur watter soort genade? Wat is die ware aard van wat mens so maklik “liefde” en “sorg” noem? Hoeveel teerheid kan veroorloof en verdra word deur die steeds reeds geskonde self? Hoeseer is elke mens die skepping van die intieme naaste se verlangens? Dít is die vrae wat aan bod kom in hierdie ontstemmende plaasroman.

Dit is ’n boek wat die “treurwerk” en die poging tot verledetydsbemagtiging van ’n hele generasie van landelike Suid-Afrikaners onder woorde wil bring en in die proses ook indringende perspektiewe open sowel oor die verantwoordelikheid en die noodwendige feile van die geheue, as oor die prekêre en twyfelagtige aard van die skryfdaad ten opsigte van ’n beroerde verlede en ’n onsekere toekoms in hierdie land. Die leser word deur hierdie teks verlei tot ’n leesavontuur in die uiterste grensgebiede van intimiteit, liefde, geweld en dood.

Reviews

There are no reviews yet.

Be the first to review “Agaat – Marlene van Niekerk”