Description
Afrikaners in die Vreemde – C. J. Scheepers Strydom
Meer as twee eeue lank is die Afrikaner deur ‘n trekgees voortgedryf. By elkeen van die talle trekke is daar dryfvere wat deur die betrokkenes self as die ware beweegredes voorgehou is. ln die meeste gevalle is dit egter ‘n oorvereenvoudiging op die vraag waarom daar tot so ‘n drastiese en dikwels rampspoedige stap oorgegaan is.
Watter ander volk as die Afrikaners sou om dié redes besluit om alles agter te laat en die bloute in te trek? Het die trekgees, soos dr. D. F. Malan eenkeer gesê het, ‘n godsdiens geword, ‘n uitvloeisel van die geloof dat God alles beskik?
Hierdie boeiende en insiggewende boek probeer antwoorde op hierdie vrae gee. Die trekkers en hul tydgenote word self aan die woord gestel en vanuit talle vergete en unieke geskrifte word ‘n beeld geskep van een van die kenmerkendste uitinge van die Afrikanerdom. Op die wyse kan ons innig meelewe met die eintlik skrikwekkende ontberings van die Dorslandtrekkers, kry ons ‘n kykie op die pionierslewe in ou Suidwes-Afrika, belewe ons die merkwaardige halfeeu van die Boere in Angola.
Maar die Afrikaner het baie verder as die toe nog so donker vasteland ingetrek: daar was talle trekke na Rhodesië, na die sonlyn, na wat nou Zambië en Zaire is tot by die sneeu van die Kilimandjaro verby tot op die hooglande van Kenia. Selfs die see kon die trekgees nie blus nie en ‘n spesiale hoofstuk word gewy aan die Afrikaners in Argentinië en die Viljoens in Noord-Amerika.